SABC tjoepstil oor skuld
2010-01-22 13:05
Johannesburg – Die SABC het Vrydag steeds geweier om kommentaar te lewer oor eise deur die Suid-Afrikaanse sokkervereniging (Safa) dat die uitsaaier hulle R27 miljoen skuld.
“Ons het ‘n direkte verhouding met hierdie mense. Ons sal diegene aan wie ons geld skuld, betaal met die geld wat ons het,” het Kaizer Kganyago , SABC-woordvoerder, gesê.
Volgens Kganyago is die inligting vertroulik.
Die koerant Mail&Guardian het Vrydag berig dat Raymond Hack , die voormalige uitvoerende hoof van Safa, gesê het hy is in kennis gestel dat die SABC hulle skuld vandeesweek sal delg.
“Dit sal enige finansiële probleme (by Safa) uitsorteer,” het Hack, wat verlede jaar ‘n R32 miljoen profyt vir die sokkervereniging aangemeld het, gesê.
“Selfs al kom dit op die ergste neer en skuld ons die bank R3 miljoen, wat ek twyfel die geval sal wees, sal Safa se boeke steeds ‘n gesonde balans van R24 miljoen toon,” het Hack gesê.
Volgens die berig sukkel Safa met kontantvloei. Die koerant het glo toegang tot die sokkerliggaam se bankrekeninge verkry en op ‘n negatiewe balans van meer as R7,4 miljoen afgekom.
Dit het ook berig dat ander dokumente getoon het dat Safa sowat R7 miljoen aan ander verskaffers skuld.
- Sapa