SABC-joernalis sterf in ongeluk
2011-03-20 11:29
Johannesburg – ‘n Voormalige joernalis by die SABC is in ‘n botsing tussen ‘n taxi en ‘n regeringsvoertuig in Moruleng buite Rustenburg dood, het die departement van openbare veiligheid in die Noordwes Sondag gesê.
Volgens Lesiba Moses Kgwele, woordvoerder vir die departement, is Solly Kgarimetsa (38) Saterdag dood toe die regeringsmotor waarin hy gery het, trompop teen ‘n taxi gebots het.
Daar word beweer dat die bestuurder van die regeringsvoertuig uitgeswaai het om te keer dat hy agter in ‘n bakkie vasry wat links gedraai het, het Kgwele gesê.
Volgens Kgwele het die regeringsmotor toe trompop teen ‘n aankomende taxi gebots.
Die taxibestuurder en ses passasiers is in ‘n kritieke toestand in die Moses Kotane-hospitaal in Ledig.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA