SAA kry nuwe voorsitter
2012-09-28 14:15
Johannesburg – Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAA) het Duduzile Myeni aangestel as waarnemende voorsitter van sy direksie, het RSG berig.
Die aanstelling volg ná berigte dat die voormalige voorsitter, Cheryl Carolus, en ander raadslede bedank het.
Die SABC het vroeër berig Carolus en agt van die 14 lede van die raad het bedank. Hul bedankings kom nadat Russell Loubser, voormalige uitvoerende hoof van die JSE en ‘n lid van SAA se raad, ook uitgetree het.
Die departement van openbare ondernemings het vroeër gesê hy dra geen kennis van die bedankings nie en dat, indien dit gebeur het, behoorlike prosedure nie gevolg is nie.
Mayihlome Tshwete, 'n woordvoerder van die departement, het bevestig dat Myeni, wat reeds op die raad dien, sal waarneem tot die raad se jaarvergadering oor twee weke.
Die Demokratiese Alliansie het intussen die bedanking van Carolus betreur.
Volg Nuus24 op Twitter