SAA hervat vlugte na Londen
2010-12-20 15:13
Johannesburg - Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAA) beplan om Maandagaand weer hulle vlugte na Heathrow in Londen te hervat nadat chaos vroeër weens swaar sneeu uitgebreek het.
"Ons het nuus ontvang vanaf die owerhede by Heathrow dat Terminaal Een oop sal wees, so SAA sal na Londen toe en terug vlieg," het SAA-woordvoerder Fani Zulu gesê.
Die lugredery sal voorkeur gee aan mense wat vir Maandagaand bespreek het, en daarna sal daar gekyk word na mense wat die afgelope twee dae nie kon vlieg nie. Dit hang alles af van die beskikbaarheid van sitplekke.
Dus sal diegene wat die afgelope twee dae nie kon vlieg nie, by die lughawens moet wees in geval sitplekke oopgaan.
Voorkeur sal dan aan die reisigers gegee word wat die langste gewag het.
- Sapa