SA wil ook name op sigaretpakkies verban
2012-08-16 20:47
Johannesburg – Suid-Afrika sal Australië se voorbeeld volg en probeer om handelsname op sigaretpakkies te verban, het ‘n berig Donderdag gelui.
“... Ons sal dit doen, definitief,” het Aaron Motsoaledi, die minister van gesondheid, aan The Times gesê.
"Wees verseker, ek is baie opgewonde."
‘n Hooggeregshof in Australië het Woensdag beslis dat die maatstawwe nie die land se grondwet oortree nie. Van 1 Desember moet tabakprodukte in eenvormige pakkies verkoop word met grafiese waarskuwings daarop.
Vier maatskappye het die nuwe wet uitgedaag en sê dit oortree hul intellektuele eiendomsregte en dat dit ongrondwetlik is.
Nietemin het die hof die argument deur British American Tobacco, Japan Tobacco International, Imperial Tobacco en Philip Morris verwerp.
Die Australiese prokureur-generaal, Nicola Roxon, sê Brittanje, Kanada en Nieu-Seeland oorweeg soortgelyke maatreëls en dat China, Suid-Afrika en die Europese Unie die saak met belangstelling gevolg het.
Motsoaledi het voorheen gesê indien die Australiese regering die saak wen, sal Suid-Afrika sy voorbeeld volg.
– Volg Nuus24 op Twitter