SA wag vir 'belangrike' aankondiging van Zuma
2012-02-10 23:02
Johannesburg – President Jacob Zuma sal Saterdag om 13:00 ‘n aankondiging van “nasionale belang” maak, het ‘n verklaring van die Sentrale Bank Vrydag gesê.
Pravin Gordhan, die minister van finansies en Gill Marcus, die goewerneur van die Reserwebank, sal saam met hom wees, het die verklaring gesê.
Die kort verklaring op die Reserwebank se webwerf het geen verdere besonderhede gegee nie, alhoewel ‘n regeringsbron gesê het die aankondiging hou nie verband met enige aanstellings nie.
Dit kom slegs twee dae ná Zuma se 2012-staatsrede waarin hy voorgeneem het om die spandering op infrastruktuur te verhoog om werkskepping te bespoedig.
Die laaste keer wat die presidensie ‘n noodvergadering gehou het, was om aan te kondig dat Lesetja Kganyago as hoof van die nasionale tesourie sal uittree en die posisie as adjunk-goewerneur by die Reserwebank sal inneem.
Die verklaring het Suid-Afrikaanse handelaars en analiste Vrydag net laat wonder.
“Niemand weet wat dit is nie,” het ‘n ekonoom van ‘n groot internasionale bank gesê.
“As dit oor inflasie of iets soos dit was, sou jy verwag het dat dit in die begroting, wat eers oor twee weke aangekondig word, sal wees.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters