SA vrou in Ysland vertel van vulkaan
2010-04-22 11:13
Kobus Pretorius, Die Burger
Kaapstad - Waar daar grond was, is nou net klippe en vulkaniese as.
Christina van Deventer (26) wat die afgelope ses jaar in Reykjavik, Ysland, saam met haar man, Bragi Thor Valsson, woon, het Woensdag die situasie in dié stad ná die uitbarsting van die Eyjafjallajökull-vulkaan telefonies aan Die Burger verduidelik.
Van Deventer is oorspronklik van Rustenburg.
Ná die natuurramp is mense se veiligheid vir hulle die belangrikste, het dié entrepreneur en deeltydse student gesê.
“Niemand wat ek ken is ernstig beseer nie.
“Mense wat alles verloor het, is egter baie positief. ’n Mens kan dit amper nie glo nie.”
Inwoners soek na maniere om die situasie te hanteer.
Dinsdag is sowat 200 beeste in die gebied geslag.
“Daar sal in die volgende paar dae heelwat meer diere van kant gemaak word sodat die vleis nie verlore gaan nie.
“Die meerderheid boere moes hul plase verlaat omdat baie plase oorstroom is.”
Baie bewerkbare grond sal ook in die voorsienbare toekoms nie bruikbaar wees nie.
Die aanhoudende as wat deur die uitbarsting versprei word, veroorsaak baie probleme.
“Die as is soos sementpoeier wat stol wanneer dit nat word. Mense het al met hamers daarop probeer kap, maar dit breek nie.”
Inwoners probeer nou die as afblaas voordat dit reën en dan hard word.
“Hulle het vroeër 6 cm as in die omgewing gemeet. Dit is baie.”
Tog verlang sy nie nou méér as gewoonlik terug huis toe nie.
Sy was in Januarie laas in Suid-Afrika. “Mense het my die laaste tyd gekontak van wie ek lanklaas gehoor het.”