SA verkoop wapens aan Zim
2012-09-10 11:46
Johannesburg – Suid-Afrika se regering het onlangs wapentuig ter waarde van R2,25 miljoen aan Zimbabwe verkoop, het ‘n koerant berig.
Beeld berig dié inligting is in die jongste verslag van die nasionale komitee oor beheer oor konvensionele wapens (NCACC) bekendgemaak.
Luidens die komitee se verslag vir 1 April tot 30 Junie het die regering in dié tydperk kontrakte van R2,8 miljard goedgekeur. Dié kontrakte is met 50 lande waaronder Indië, Gaboen, die VSA en China gesluit.
Jeff Radebe, minister van justisie en voorsitter van die NCACC, het in 2011 gesê die komitee keur permitte vir die verkoop van wapens af aan lande “waar daar politieke verwikkelinge was”. Dit sluit Gaboen, Sirië, Jemen en Zimbabwe in.
Luidens die verslag val die wapens wat aan Zimbabwe verkoop is grootliks in kategorie C, wat hoofsaaklik uit steuntoerusting soos traangas bestaan.
“Daar is al langer as ’n dekade ’n de facto-embargo op die uitvoer van wapentuig aan Zimbabwe,” het David Maynier, DA-LP, gesê.
Radebe se woordvoerder, Mthunzi Mhaga, het teen druktyd nie op die koerant se navrae gereageer nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA