'SA verkoop vleilande aan myngroepe'
2012-02-11 08:30
Johannesburg – Die vleiland-gemeenskap in Suid-Afrika het met kommer kennis geneem dat die land sy omgewing en veral sy vleilande teen ’n geweldige prys aan myngroepe “verkoop”.
“In hierdie stadium wedywer die myne met ander gebruikers vir die land se varswaterbronne,” het Piet-Louis Grundling, voorsitter van die internasionale veenbewaringsgroep, Vrydag op die jaarlikse Vleilandberaad in Pretoria gesê.
Grundling het gesê Suid-Afrika se ekonomie is op sy minerale rykdom gebou, maar die koste word nou te hoog deurdat die impak van mynbou op rivierstelsels onomkeerbaar en vernietigend is.
Volgens hom is dit duidelik dat mynmaatskappye nou net inkom en die vlakste steenkoollae – dié in riviere en vleie – kies om te myn. Dit is ’n maklike en goedkoop manier van myn. “Die skade is egter geweldig,” het hy gesê.
Verskeie vleilandkundiges het gesê die regering maak fatale foute deur net op werkskepping en die opwekking van energie te konsentreer en die land se kosbare waterbronne en ryk biodiversiteit te ignoreer.
John Dini, vleilandkundige van die Suid-Afrikaanse Biodiversiteitsinstituut, het gesê omgewingskundiges moet die ekologiese waarde van vleilande, asook hul toerisme- en werkskeppingspotensiaal, onder beleidmakers se aandag bring.
Hy het na pres. Jacob Zuma se staatsrede eergisteraand verwys en gesê die president het toerisme en die groenekonomie in dieselfde sin as mynbou genoem toe hy oor ekonomiese groei en werkskepping gepraat het.
Volgens Dini het 8,1 miljoen toeriste Suid-Afrika in 2010 besoek en het die helfte van dié besoekers een van Suid-Afrika se 20 Ramsar-gebiede (vleilande wat internasionale beskerming ingevolge die Ramsar-konvensie geniet) besoek.
Gemiddeld 588 000 besoek die iSimangaliso-vleiland jaarliks.
Akademici was dit eens dat die Suid-Afrikaanse burgerlike gemeenskap hul stemme sal moet saamsnoer om die regering en mynhuise tot ander insigte te bring.
Akademici het ’n plig teenoor die Suid-Afrikaanse gemeenskap om hulle van inligting te voorsien in hul stryd om hul omgewing te beskerm, het Tracy McKay van die departement geografie en omgewingstudie aan die Universiteit van Johannesburg gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld