SA toets nou entstof op mense
2009-07-23 10:43
Kaapstad- Suid-Afrika het pas begin om die nuwe MIV-entstof op mense te toets.
Dié plaaslik vervaardigde entstof wat in Soweto, Kaapstad en Amerika getoets word, was die toppunt van bespreking toe dit hierdie week by die internasionale Vigs konferensie in Kaapstad geloods is.
‘n Suksesvolle entstof, wat nog jare weg is, is die enigste oplossing vir ‘n land met sowat ses miljoen infeksies wat die gesondheidstelsel pootjie.
“As ons nie ‘n voorsorgstrategie vir Suid-Afrika vind nie, is ons in groot moeilikheid,” het Linda-Gail Bekker, hoof-navorser van die entstof gesê.
“Ons kan nie toelaat dat ses miljoen mense sterf nie. ‘n Entstof is sonder twyfel die beste manier om die verspreiding van die virus te stuit.”
Sowat 48 vrywilligers sal aan die toetse deelneem, waarvan 36 van Suid-Afrika afkomstig is.
Die eerste fase van die toetse word gedoen om te bepaal of die entstof geskik is vir menslike gebruik.
Die entstof is by die Universiteit van Kaapstad ontwikkel en met die hulp van die Amerikaanse Nasionale Gesondheidsinstituut vervaardig.
Die vorige toetslopie wat in 2007 deur die farmaseutiese maatskappy, Merck, gedoen is is gestaak omdat daar bevind is dat dit pasiënte se kanse om Vigs te kry, verhoog het.
Daar is ook verskeie ander toetslopies wêreldwyd waar verskeie entstowwe getoets word. Die grootste studie vind in Thailand plaas en het in 2003 begin.
Sowat 16 000 pasiënte neem deel aan hierdie toets en die resultate sal later vanjaar bekend wees. Sou hierdie toetslopie ‘n sukses wees, sal dit goeie nuus vir Suid-Afrika inhou omdat die plaaslik vervaardigde entstof ‘n soortgelyke benadering gebruik.
–Sapa-APF