SA soldate 'help' Gaddafi
2011-10-23 08:05
Johannesburg – Diplomate in Pretoria en Tripoli ondersoek die moontlikheid dat Suid-Afrikaners gehelp het met kol. Muammar Gaddafi se poging om te ontsnap en in die proses gesterf het.
Rapport het Saterdag met een van die Suid-Afrikaners gepraat wat glo Gaddafi op kontrak vir ’n veiligheidsmaatskappy sou onttrek het.
Deon Odendaal, ’n spioen, het Saterdag vanuit ’n hospitaal in Noord-Afrika aan Rapport gesê hul betaalde onttrekkingsoperasie was ’n “moerse mislukking”.
Volgens hom was ongeveer 19 Suid-Afrikaners deur verskillende maatskappye gekontrakteer vir die operasie.
Odendaal het die naam van een van twee Suid-Afrikaners wat glo doodgemaak is aan Rapport verskaf, maar dit kon nie onafhanklik bevestig word nie.
Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge, het gesê die diplomaat in Tripoli kan weens die huidige omstandighede nog nie duidelikheid verskaf nie.
Monyela sê die regering het beslis nie in ’n amptelike hoedanigheid so ’n operasie ondersteun nie en kan nie verantwoording doen vir individue wat dit “op eie risiko” sou doen nie.
Odendaal sê hy het Maandag vir Gaddafi ontmoet toe die huursoldate in Libië aangekom het.
Hulle het Dinsdagaand al voertuie uit die stad begin stuur om Gaddafi na die buurland Niger te vervoer.
Odendaal en vier ander Suid-Afrikaners was glo in ’n Jeep toe hulle as deel van die konvooi uit Sirte gejaag het.
“Ons het almal geglo hulle wou hom (uit Libië) uitkry,” sê hy, maar die Navo-magte het uit die lug op die konvooi geskiet.
Libiese soldate het op die konvooi toegesak en Gaddafi het met ’n paar van sy beskermers na die stormwaterpyp gevlug waar hy gevind is.
Huursoldate het in alle rigtings gevlug.
“Dit was ’n vieslike, vieslike orgie,” sê Odendaal.
Die soldate het vir mekaar geskree om nie die buitelanders in die proses te skiet nie en hulle het Odendaal gehelp vlug.
Hy sê hy probeer steeds ander Suid-Afrikaanse kollegas opspoor, maar hul Libiese selfoonnommers is glo afgeskakel.
Saterdag was daar nog groot verwarring oor die presiese omstandighede van Gaddafi se dood en wat volgende moet gebeur.
Waheed Boersjan, ’n lid van die oorgangsraad, het aan Al Jazeera gesê daar moet ’n ondersoek wees oor hoe Gaddafi dood is, aangesien hy duidelik lewend gevange geneem is.
Boersjan het vrae geopper oor die vroeëre amptelike weergawe dat Gaddafi geskiet is in ’n geveg terwyl hy na Misrata vervoer is.
Honderde mense het Saterdag nog na Misrata gestroom om Gaddafi se lyk in ’n slaghuis te gaan besigtig.
Hy het glo koeëlwonde aan sy kop en maag.
Sy familie het Saterdag geëis dat sy lyk aan hulle oorhandig word sodat hy ingevolge Moslem-gebruike begrawe kan word.
Prof. Christof Heyns, ’n bekende regsgeleerde verbonde aan die Universiteit van Pretoria en die Verenigde Nasies se spesiale rapporteur oor buite-regtelike, summiere en arbitrêre teregstellings, het vanuit New York aan Rapport gesê daar moet ondersoek ingestel word na of Gaddafi tereggestel is.
Dit is op sigself ’n oorlogmisdaad, sê hy.
Volgens hom het die menseregteraad reeds vroeër ’n taakspan saamgestel om menseregtevergrype daar te ondersoek.
Die bewoording van die resolusie is van so ’n aard dat die huidige bewerings net bygevoeg kan word, sê hy.
Dit is egter nog te gevaarlik vir afgevaardigdes van die taakspan om die land te besoek.
Selfoonvideomateriaal wat reeds wêreldwyd versprei is, dui daarop dat Gaddafi erg gemartel is.
“Die arme ding het soos ’n vark geskree,” was Odendaal se beskrywing.
Die meeste lande aanvaar reeds die oorgangsraad as Libië se legitieme regering wat nou belowe om verkiesings te hou.
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport