SA sit dalk gou sonder brandstof
2012-02-22 09:04
Johannesburg – ’n Landwye tekort aan brandstofprodukte weens verouderde infrastruktuur is ’n onmiddellike moontlikheid as die staat en ander belanghebbendes nie gou die probleem takel nie.
Die meeste van Suid-Afrika se raffinaderye is in die jare 60 gebou en die petroleumbedryf verkeer onder konstante druk wat nie gou opgelos gaan word nie.
Só sê Peter Noke, nasionale direkteur van die Suid-Afrikaanse Petroleum-kleinhandelaarsvereniging (Sapra). Hy sê die bedryf is reeds van November 2011 onder druk ná beplande en onbeplande instandhouding by die Sapref- en Enref-raffinaderye in Durban.
“Dit is egter net een van ’n aantal probleme in die bedryf.”
Hy het gewaarsku dat veral kleiner vulstasies op die platteland in die nabye toekoms hul deure sal moet sluit, omdat groter diensstasies voorkeur geniet.
Daar is ook ’n ernstige tekort aan bitumen, ’n byproduk in die vervaardiging van brandstofprodukte, wat vir padbou gebruik word.
Noke sê dit is ’n duur en komplekse bedryf met baie betrokkenes.
Dié sluit in die departement van energiesake, Nasionale Energiereguleerder (Nersa), Transnet, Suid-Afrikaanse petroleumbedryfsvereniging (Sapia) en Prasa.
“Ons infrastruktuur het nie tred gehou met ontwikkeling nie. Daar is 10 miljoen voertuie op die pad en die meeste daarvan in Gauteng.”
Hy het gesê daar is ’n twis tussen belanghebbendes oor wie verantwoordelik is vir die bou van nuwe raffinaderye en brandstofdepots.
Dringende samesprekings tussen die regering, raffinaderye en ander belanghebbendes word gehou om verdere tekorte te verhoed.
’n Tekort aan bitumen landwyd het die herstel van paaie byna tot stilstand gedwing.
Phillip Hechter, besturende direkteur van Much Asphalt, Suid-Afrika se grootste kommersiële verskaffer van asfaltprodukte, het gesê redes vir dié tekort is probleme by raffinadery.
“In Desember was slegs 30% van die aanvraag beskikbaar. Op die oomblik is dit tussen 30% en 50%.”
Hy het gesê dit is veral kleiner ondernemings wat sukkel.
“Lughawens en nasionale paaie kry voorkeur. Tegnologie word ontwikkel om soveel moontlik brandstofprodukte uit ru-olie te kry.
“Bitumen is slegs 1% van die eindproduk en soos oorgeskakel word na skoon brandstof met laer swaelvlakke gaan die situasie vererger.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld