SA-sendelinge sterf in Mosambiek-ongeluk
2011-07-13 13:24
Kaapstad – Twee Suid-Afrikaners wat saam met 'n uitreikgroep in Mosambiek was, is op pad na Suid-Afrika dood toe die voertuig waarin hulle gery het, teen 'n vragmotor gebots het.
Bonnie Murray, vrou van ds. Danie Murray, leier van die uitreikspan, het aan Nuus24 gesê die voertuie waarin die groep gery het, was via radioverbinding in kontak met mekaar, maar slegs die voertuig wat voor gery het, het die stilstaande vragmotor in die pad gemis.
"Die paaie in Mosambiek is verskriklik en daar was geen ligte of waarskuwing nie. Gewoonlik sit hulle takke in die pad as waarskuwing."
Murray het gesê die groep is baie geskok.
Ds. Gerrie van Wyk van Johannesburg het erge kopbeserings opgedoen en die 64-jarige Beryl du Plessis van Rustenburg het haar femur gebreek.
Van Wyk sal per helikopter na Suid-Afrika gebring word.
Du Plessis se man, wat die bestuurder van een van die voertuie was, is een van die oorledenes.
Die ongeluk het sowat 60 km buite Quelimane plaasgevind.
'n Beampte van die Gereformeerde Gemeente in die Strand het aan Nuus24 gesê die ongeluk het omstreeks 04:00 plaasgevind.
Lede van die uitreikgroep was afkomstig van ondermeer Pretoria, Johannesburg, Rustenburg en Kaapstad.
Die Kapenaars is van die Gereformeerde Gemeente in die Strand en NG-gemeente Proteahoogte in Brackenfell.
'n Cessna-vliegtuig sal na Mosambiek gestuur word om die res van die groep na Suid-Afrika te bring.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24