'SA se water oor 5 jaar ondrinkbaar'
2010-09-29 05:47
Johannesburg – Teen 2015 sal sowat 80% van Suid-Afrika se varswater so erg besoedel wees dat dit glad nie gesuiwer kan word nie.
Volgens die omgewings en bewaringsvereeniging van Suid-Afrika sal geen suiweringsmeganisme die land se varswater weer drinkbaar kan maak vir mens of dier nie.
“As ons nie ‘n nuwe waterbron binne twee jaar vind nie, sal die meeste van Gauteng sonder skoon drinkwater wees,” het die vereeniging ‘n verklaring bekend gemaak.
Hierdie ramp is glo Suid-Afrika se voorland weens die dreinering van mynsuur, riool en ander industriële besoedeling.
Na bewering is hierdie potensiële gevaar reeds aan die regering bekend gemaak sonder enige daadwerklike resultate.
Dié vereeniging sal nou ‘n reuse-projek van stapel stuur om water te toets in die ses hoofareas van Gauteng en Limpopo, sodat hul onafhanklike resultate kan kry om te bepaal tot hoe ‘n mate die land se water besoedel is.
Hierdie resultate sal aan die publiek en die media, beide nasionaal en internasionaal, bekend gemaak word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA