SA se vigssyfers ‘Mbeki se skuld’
2009-11-11 07:18
Rajaa Azzakani
Die regering het gister die skuld vir Suid-Afrika se skokkende MIV/vigs-infeksiekoers voor die deur van oudpres. Thabo Mbeki se vigsontkenning gelê.
Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het terselfdertyd aangekondig dat Suid-Afrika die wêreld se grootste teenvigsveldtog van stapel wil stuur.
“Die skokkende statistieke het te doen met wat die regering in die laaste dekade gedoen het. Ons houding teenoor MIV/vigs het ons by die punt gebring waar ons nou is. In die verlede het ons nie regtig die stryd teen vigs aangesê nie, maar eerder met mekaar baklei. Mense glo steeds hulle is mekaar se vyande.”
’n Reuse-veldtog word beplan om mense aan te moedig om hulself vrywillig vir MIV/vigs te toets. Pres. Jacob Zuma sal “die eerste een in die ry wees”.
Die kabinet, kerkleiers en rolmodelle in die musiekbedryf, sakesektor en sportsterre gaan gevra word om ’n voorbeeld te stel.
Motsoaledi het aangedui dat die vrywillige vigstoetse voor die begin van aanstaande jaar se Wêreldbekersokkertoernooi afgehandel moet wees.
Die minister wil voorts standaard-vigstoetse vir swanger vroue instel, tensy hulle dit weier.
Swanger vroue ondergaan verskeie verpligte toetse vir onder meer diabetes en seksueel oordraagbare siektes tydens swangerskap, maar nie vir vigs nie, het hy gesê.
“Lede van die kabinet moet strategiese leierskap toon, en dit moet by die president begin. Wanneer ons by vrywillige toetse kom, sal ek vir hom sê ek wil hom eerste in die ry hê en die aanduiding is dat hy sal instem.”
Motsoaledi het voortgebou op die donker prentjie wat Zuma verlede week oor vigs geskets het.
In 2007 was die totale sterftes in die land 573 408 en in 2008 het dié syfer die hoogte ingeskiet tot 756 062. “Ek het nog nie die syfers vir 2009 nie, maar ek vermoed ons kan reeds 900 000 bereik het. Dit het met meer as 100% gestyg in die laaste 11 jaar.”
Suid-Afrika maak slegs 0,7% van die wêreld se bevolking uit, maar die land dra 17% van die MIV/vigs-las. “Wanneer die wêreldprentjie in ag geneem word, is dit 23 keer meer as die wêreldgemiddelde.”
Die getal mense wat aan tuberkulose – die hoofoorsaak van MIV-sterftes – dood is, het ook aansienlik toegeneem. In 1997 was dié syfer 22 071 en in 2005 het dit gestyg tot 73 903, wat neerkom op ’n styging van meer as 300%.
Altesaam 57% van alle kindersterftes onder vyf in 2007 was vigsverwant.
Volgens ’n grafiek wat Motsoaledi voorgehou het, was sterftes onder vroue in 1997 “normaal”, met die meeste sterftes onder diegene ouer as 55 jaar. Dít het egter binne sewe jaar ’n abnormale kurwe aangeneem en die meeste sterftes in 2004 het voorgekom onder vroue tussen 25 en 40 jaar.
- Die Burger