SA se tronke die volste in Afrika
2013-02-11 17:58
Johannesburg – Suid-Afrika het die hoogste tronkbevolking in Afrika, het Sbu Ndebele, minister van korrektiewe dienste, Maandag gesê.
“[Ons is] tans negende in die wêreld in terme van tronkbevolkings, met ongeveer 160 000 gevangenes,” het hy in ‘n toespraak gesê.
Minstens 30% van diegene wat aangehou word, is verhoorafwagtend.
Ndebele het gepraat tydens ‘n vergadering met die senior leierskap van die polisievakbond Popcru en die Suid-Afrikaanse Staatsdienswerkersvereniging, in Pretoria.
Die oorbevolkingsprobleem is ‘n prioriteit, het hy gesê.
“Die feit dat ons syfer van oortreders konstant bly, al verwyder ons paswette, groepsgebiede of apartheidswette, beteken ons moet meer dringend na antwoorde soek vir die hoë tronkbevolking in Suid-Afrika,” het hy gesê.
Drie verhoorafwagtende gevangenes is in Januarie dood en 65 ander is beseer in bende-verwante geweld by die St Albans- korrektiewe sentrum in die Oos-Kaap.
Die Congress of the People (Cope) het die onluste op oorbevolking blameer.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA