'SA se skole kán beter'
2011-09-08 07:07
Pretoria – Daar ís hoop vir die Suid-Afrikaanse skoolstelsel, maar sterk leierskap is nodig en vakbonde mag die land nie langer terughou nie.
So het Ann Bernstein, uitvoerende direkteur van die Sentrum vir Ontwikkeling en Ondernemerskap (CDE), Woensdag by die bekendstelling van ’n verslag oor die hervorming van Suid-Afrikaanse onderwys gesê.
Die verslag is ’n opsomming van ’n CDE-werksessie in April wat onder andere deur me. Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, bygewoon is.
Daar is gekyk na suksesvolle hervorming in Brasilië, Ghana, Indië en die VSA.
Die uitdaging van die taak moenie onderskat word nie, het Bernstein gesê. Suid-Afrika se skoolstelsel is groot en kompleks, met 12 miljoen leerlinge en meer as 400 000 onderwysers. ’n Eenvoudige hervormingsmodel sal dus nie werk nie.
“Ons het ons eie omstandighede en geskiedenis. Deur na internasionale ervaring te kyk, kan ons egter vrae vra wat nie in die geskiedenis gesetel is nie en eerder op die toekoms fokus.”
In Brasilië, met ’n baie ongelyke samelewing en ’n bevolking van 200 miljoen mense, het sterk politieke leierskap ’n reuse-verskil in die onderwysstelsel gemaak.
Internasionale bevindings wys dat meetbare verbeterings binne ses jaar bereik kan word, maar daarvoor is vasbeslote leierskap en volgehoue toewyding nodig. “Ons dink die departement doen eintlik goeie werk in die huidige politieke beperkings.
Hulle sukkel baie met (die onderwysersvakbond) Sadou. Onlangs het die departement planne laat vaar om inspekteurs by skole aan te stel en in sommige gebiede is dit Sadou wat die aanstellings van skoolhoofde goedkeur.”
Bernstein het beklemtoon dat dit nie alle Sadou-lede en -takke is wat probleme veroorsaak nie.
Prestasielone vir onderwysers, ernstige gevolge as pligte nie nagekom word nie en ’n fokus op leerlinge se prestasie is nodig. Dit is ook noodsaaklik dat onderwysers deeglik opgelei word, veral op praktiese vlak.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld