Paartjie van SA pleit vir seun se vrylating
2012-04-28 09:10
Johannesburg – 'n Suid-Afrikaans-gebore paartjie het gepleit vir die vrylating van hulle 12-jarige seun wat in Maleisië ontvoer is, het 'n berig Saterdag gelui.
Die Saturday Star het berig dat die seun, Nayati Moodliar, Vrydagoggend in Kuala Lumpur ontvoer is terwyl hy op pad was skool toe.
Ooggetuies het gesien hoe hy deur twee mans in 'n motor gedruk word.
"Hy is ons enigste seun. Hy is 'n goeie seun en ons het hom terug nodig," het sy pa, Shamelin Moodliar, in 'n video op YouTube gesê.
"Ons soek nie enige moeilikheid nie... Dis nie te laat om hom te laat gaan nie... Ons is nie ryk mense nie, gee asseblief ons seun terug."
Shamelin het aan 'n televisiestasie gesê hulle weet nie of hy ontvoer is vir 'n losprys nie.
Die ouers het beide Suid-Afrikaanse en Nederlandse burgerskap. Die seun se grootouers woon in Kaapstad.
Hulle Suid-Afrikaanse familie het met skok van die ontvoering verneem.
"Ons is in kontak met hulle... Dis moeilik vir almal van ons," het die seun se tannie, Caroline Swanepoel, gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA