'SA ongelykheid grootste ter wêreld'
2011-04-06 06:59
Bloemfontein - Ongelykheid in Suid-Afrika het vererger tot by die punt waar dit nou die grootste in die wêreld is, het Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van Cosatu, Dinsdag gesê.
Vavi het die nasionale onderhandelingskonferensie van die National Union of Metalworkers (Numsa) in Johannesburg toegespreek.
“Die werkers se deel van die nasionale inkomste was 56% in 1995, maar het teen 2009 tot 51% gedaal,” het Vavi gesê.
“Daar is geen amptelike armoedelyn vir Suid-Afrika nie, tog het die minister van finansies erken dat 50% van die bevolking op 8% van die nasionale inkomste leef.”
Intussen het die getal Suid-Afrikaanse miljardêrs byna verdubbel van 16 in 2009 tot 31 in 2010 toe die land se 20 rykste mense ’n toename van 45% in rykdom beleef het.
“Pine Pienaar, uitvoerende hoof van Mvelaphanda Resources, het in 2009 R63 miljoen gemaak, wat beteken hy verdien 1875 keer soveel as die gemiddelde werker.”
Vavi het bygevoeg dat die armste 10% van verdieners gemiddeld R1 275 per maand ontvang het wat sowat 0,57% van totale verdienste beloop, terwyl die top-10% 49,2% van die totaal verdien.
“Dit is statistieke wat ons in die onderhandelingskonferensie in ag moet neem. Ons moet die gedagte dat werkers beskeie moet wees wat hulle eise betref, hul gordels moet intrek en moet toegee aan loonooreenkomste, loonvriesings en die jeugloonsubsidie verwerp.
“Ons moet aan neoliberale denkskole en navorsingsinstellings sê (dit is) misdadig om te redeneer dat werkers hul gordels moet intrek terwyl ’n minderheid nie eers ’n vinger lig om iets te vervaardig nie, maar weet hoe om winste te verkwis.”
Vavi het bygevoeg dat ’n oproep tot die vries van lone in die konteks van stygende werkloosheid stygende vervoer- en brandstofkoste en stygende voedsel- en elektrisiteitspryse is soos om te vra vir ’n vermindering in lone.
Vavi het egter die ANC – “ons beste bondgenoot” – gelukgewens met die transformasie wat die party in die lewe van baie Suid-Afrikaners bewerkstellig het.
Opeenvolgende ANC-regerings het die aantal huishoudings met toegang tot water uit pype tot 89% verhoog, dié met toegang tot elektrisiteit en ligte tot 80% en die met toegang tot sanitasie tot 68%, het Vavi gesê.
“Ons het 1,6miljoen gesubsidieerde huise gebou en 1,9 miljoen behuisingsubsidies verskaf.”
Vavi het egter gesê dat die land steeds deur enorme uitdagings in die gesig gestaar word.
Hy het die konferensie gevra om ’n verband te trek tussen ’n werker se loon en die maatskaplike loon.
“Die stryd om beter behuising, goedkoper en meer doeltreffende dienste sowel as beter openbare vervoer, opvoeding en ’n gesondheidstelsel moet alles deel vorm van die vergelyking.”
Vavi het bygevoeg dat hy die “teleurstellende ontwikkelinge” ten opsigte van plaaslike regerings se verkiesingslyste opgemerk het.
“Dit is waar dat in sommige gevalle gewilde kandidate van die mense die slagoffers geword het van die magtige faksies wat hulself as waghonde aangestel het. Dit is waar dat riglyne gesystap en gekortwiek is.”
Vavi beweer in sommige gevalle word politieke ruimte deur diegene met geld gemonopoliseer. “Daar is baie wat steeds geld en netwerke gebruik om hul plek in die politieke kantoor te verseker.
- Volksblad