SA ‘moet begin dink oor land sonder Madiba’
2010-07-22 08:10
Kaapstad - Suid-Afrikaners het verslaaf geraak aan oudpres. Nelson Mandela en moet van dié verslawing genees word, het dr. Mamphela Ramphele Woensdag gesê.
Ramphele, ’n bekende akademikus, sakevrou en aktivis wat ook in die raad van die Nelson Mandela-stigting dien, het gesê die land moet begin dink aan hoe hy die leemte gaan hanteer wat deur Mandela se dood gelaat gaan word.
Ramphele het gepraat op ’n nuuskonferensie waar die Chileense skrywer en aktivis Ariel Dorfman, wat vanjaar die Mandela-gedenklesing gaan lewer, verwelkom is.
Dorfman is bekend vir toneelstukke soos Death and the Maiden wat hy in 1990 oor Chili se oorgangs na demokrasie geskryf het.
“Madiba is reeds 92 jaar oud. Hy gaan nie vir ewig lewe nie. Wanneer ’n ouer sterf, laat dit ’n groot leemte. Ons as ’n samelewing moet dus dink hoe ons die neerslagtigheid gaan hanteer wat met dié ikoon se wegval gepaard sal gaan,” het Ramphele gesê.
“Die beste manier om dit te doen, is om maniere te vind om uitdrukking te gee aan die beginsels, ideale en drome waarvoor Madiba leef.”
Sy het bygevoeg dat daar voor die verhore van die Waarheids-en-versoeningskommissie opsetlik besluit is om nie toe al die sosio-ekonomiese uitdagings waardeur die land in die gesig gestaar word te takel nie. Slegs menseregteskendings is bekyk.
“Die idee was dat ons eers ons demokrasie wil versterk voordat ons die ander goed (sosio-ekonomiese uitdagings) takel.
“Nou is dit dié ander goed wat soms kop uitsteek. Goed soos xenofobie, geweld teen vroue en kinders en verskeie destruktiewe goed.”
Dit is tyd dat Suid-Afrikaners die vuvuzela wegpak en stil raak sodat mense na mekaar kan luister.
“Ja, ons het die bewondering van die wêreld gewen, maar ons het ook die reputasie verwerf as ’n baie raserige nasie,” het Ramphele gesê.
Dorfman het gesê dialoog is die beste manier om Mandela se erfenis te vier.
“Ek glo egter dat ’n mens verby die erfenis van Mandela moet beweeg. Jy moet leer hoe om sonder ’n pa te lewe.”
Die Mandela-gedenklesing vind op 31 Julie in Johannesburg plaas. Dorfman sal in aanloop daartoe verskeie praatjies lewer.
- Die Burger