'SA moet balans vind'
2012-02-03 08:01
Kaapstad – ’n Versigtige en delikate balans is in Suid-Afrika nodig om inklusiwiteit aan die een kant te bou en regstellende maatreëls aan die ander toe te pas.
Só het Kuben Naidoo, hoof van die sekretariaat van die Nasionale Beplanningskommissie, Donderdag by die F.W. de Klerk-stigting se jaarlikse konferensie gesê.
Hy het daarop gewys dat die Grondwet ’n duidelike grondslag vir herstel en regstellende aksie bied om die ongelykhede van die verlede reg te stel.
“Dit vereis egter ’n baie versigtige en delikate balans. Omdat apartheid geleenthede in terme van ras gedefinieer het en ras steeds die grootste bepalende faktor vir geleenthede is, is dit net natuurlik dat herstelmaatreëls rasgebaseerd moet wees.”
Die diagnostiese verslag van die beplanningskommissie het getoon Suid-Afrika het daarin misluk om mense te verenig en herstellende maatreëls behoorlik toe te pas.
“Ons moet ons sokkies aan albei fronte optrek. Leiers oor die hele spektrum is nodig om as voorstanders van en waghonde vir eenheid én versoeningspogings en herstel op te tree.”
Ekonomiese transformasie moet oor meer gaan as om net die kleur van die elite te verander, het Naidoo gesê.
Volgens hom het die regering én die private sektor gefouteer in die toepassing van herstelmaatreëls. “Die Wet op Diensbillikheid sê nie maatskappye of die openbare sektor moet mense aanstel wat nie aan die nodige kriteria voldoen nie. Dit gebeur egter dwarsdeur die ekonomie.”
Weerstand teen regstellende aksie wat na behore in die werkplek of universiteite toegepas word, is volgens hom ’n belediging vir die Grondwet. “Mense wat vir die afskaffing van regstellende aksie vra, ontken die uitwerking wat apartheid op geleenthede vir swart mense gehad het.”
De Klerk het in sy toespraak gesê pres. Jacob Zuma en die beplanningskommissie slaan die spyker op die kop wanneer hulle sê Suid-Afrikaners behoort met mekaar te praat. “Ons neem nie mekaar se strewes, belange en besorgdheid in ag nie. In plaas daarvan het ons in faksies opgebreek.”
Gemeenskaplike terrein moet volgens hom gevind word om eenstemmigheid oor oplossings te bereik. “Ons het pragmatiese dialoog nodig waar die siening van alle deelnemers gerespekteer en opgeweeg kan word. Suid-Afrika het sedert 1994 op sy beste presteer wanneer hy ’n pragmatiese beleid gevolg hetm en op sy swakste wanneer hy toegelaat het dat ideologie die botoon voer.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger