SA misdaad: Moord af, roof op
2009-09-22 15:00
Kaapstad- Die nuutste misdaadstatistiek vir die 2008/9 finansiële jaar is bekendgemaak en alhoewel die moordsyfers gedaal het, het die rooftogte by woonhuise toegeneem.
Volgens Nathi Mthethwa, minister van polisie, is hulle bekommerd oor die 41.5% styging in rooftogte by besighede, veral kleiner besighede.
Transito-rooftogte het afgeneem met 2.3% tydens die tydperk wat tot 31 Maart geduur het. “Hierdie is egter nie ‘n drastiese afname in vergelyking met verlede jaar nie,” het Mthethwa gesê.
Bankrooftogte het met 29.2% afgeneem en aanvalle op OTM’s met 10%.
Die toename van 27% in rooftogte by woonhuise het die polisie egter bekommerd. “Dit is een van die misdade wat die meeste indring op ‘n individu se persoonlike spasie. Mense moet veilig in hulle eie huise kan voel.”
Moord en poging tot moord het ook afgeneem oor die afgelope paar jaar. Moord het met 3.4% geval en poging tot moord met 4.3%.
Voorvalle van aanranding is af met 4.3% en aanranding met die doel om ernstig te beseer is af met 4.7%.
Die syfers toon ook dat daar ‘n 2.7% toename was in veediefstal, wat veral ‘n impak het op landelike gebiede.
Seksuele oortredings is op met 10.1%.
Mthethwa het gesê die nuutste syfers moet die regering en gemeenskap aanspoor om misdaad te help hokslaan.”
Die VF+ plus het in ‘n verklaring gesê dat die nuutste syfers nie ‘n “valse gerustheid” by Suid-Afrikaners moet skep nie.
“Die moordsyfer is nou 37,3 per 100 000 van die bevolking, maar die wêreldgemiddeld vir moord is 5 per 100 000 van die bevolking. In Suid-Afrika word steeds vyftig mense per dag vermoor en is moord steeds amper agt keer hoër as die wêreldgemiddeld,” Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder vir polisie van die VF+, gesê.
–Sapa