SA media vereer Hammerl met topprys
2011-09-17 08:03
Kaapstad – Die ontslape fotograaf Anton Hammerl is Vrydagaand by die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) se jaarlikse gala-ete met die Nat Nakasa-toekenning vereer.
Hammerl is in April doodgeskiet terwyl hy die burgeroorlog in Libië gedek het.
Die toekenning sal geskenk word aan die trust wat vir sy kinders, Aurora (11), Neo (7) en Hiro (ses maande), geskep is.
Die Nat Nakasa-toekenning is genoem na ’n Suid-Afrikaanse joernalis wat op die ouderdom van 28 in 1965 in ballingskap in Amerika dood is.
Dit word toegeken aan ’n joernalis, redakteur, bestuurder of media- eienaar wat integriteit toon en vreesloos verslag doen, toegewyd is om die mense van Suid-Afrika te dien, daarna streef om ’n publikasie of ander medium aan die gang te hou ten spyte van onoorkombare struikelblokke, hom/haar teen sensuur versit het, dapperheid getoon het deur inligting aan die publiek beskikbaar te stel, of enige kombinasie van bogenoemde.
* Die redakteur van die Cape Argus, Gasant Abader, is vroeër Vrydag op Sanef se jaarvergadering tot adjunkvoorsitter van die forum verkies.
* Genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, het redakteurs op die vergadering in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum toegespreek.
Hy het egter geweier om oor die omstrede huurkontrak-debakel wat deur die openbare beskermer ondersoek is te praat, berig Sapa.
Hy het wel gesê die polisie doen stappe om swakhede “soos hierdie administratiewe brouwerk” aan te spreek.
Cele het ook gesê die polisie gaan nou Twitter gebruik om beter met die media te kommunikeer oor die polisie se werk.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger