SA man se lyk langs graf in Thailand gevind
2012-10-03 13:39
Durban – Thailand se polisie is op soek na ‘n groep wat ‘n Suid-Afrikaanse man in dié land vermoor het, het ‘n koerant berig.
Thailand se Daily News berig Oswald Heinrich Duvel se lyk is Sondagoggend langs ‘n graf aan die voetheuwels van die provinsie Saraburi, noord van Bangkok, gevind.
Die polisie is vasbeslote dat die graf vir die vermoorde man bedoel was.
Volgens die koerant het die polisie reeds beslag geneem op ‘n voertuig wat vermoedelik aan die man se moord gekoppel is.
Thai Rath berig Duvel, wat drie keer geskiet is, het net sy horlosie en ‘n blou onderbroek aangehad toe sy lyk gevind is.
Albei koerante berig ‘n graf, wat gedeeltelik uitgegrawe is, is naby die lyk gevind.
Pattya Daily berig polisie vermoed dat diegene wat die graf gegrawe het, gevlug het toe iemand waarskynlik verbygeloop het.
Luidens die berig in Thai Rath is die polisie van mening dat die man omtrent tien ure voordat sy lyk gevind is, vermoor is.
Suid-Afrika se departement van internasionale betrekkinge en samewerking kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.
Talle berigte dui daarop aan dat Duvel vermis geraak het nadat hy sy huis in Bangkok verlaat het om sy driejarige seun by sy eksvrou se huis te besoek.
Duvel se ouderdom is nie bekendgemaak nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA