SA kry in 9 j. 37% meer verpleegsters
2012-01-30 09:00
Pretoria – Die getal verpleegsters in Suid-Afrika het die afgelope nege jaar met meer as 37% gegroei, heelwat vinniger as die land se bevolking.
Luidens statistieke wat die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging vandeesmaand op sy webwerf geplaas het, geld dit ook geregistreerde verpleegsters, die hoogs gekwalifiseerdes met vier jaar opleiding.
Die raad sê die land se bevolking van 45 miljoen mense het tussen 2002 en verlede jaar met 12% gegroei van net meer as 45 miljoen mense tot sowat 50,6 miljoen.
Daar was verlede jaar 118 262 geregistreerde verpleegsters, 24,6% meer as in 2002.
Dit lyk steeds asof die land se verpleegsters in dié kategorie al hoe ouer word met meer as ’n driekwart van hulle wat nou ouer as 40 is.
Altesame 30% van geregistreerde verpleegsters was in 2011 tussen 50 en 59 jaar oud, 13% was tussen 60 en 69 jaar oud en 3% was ouer as 69.
Die stand van sake was dieselfde in 2010.
Vyf jaar gelede was sowat 71% van dié verpleegsters ouer as 40.
Die raad sê die groei in ingeskrewe verpleegsters (met twee jaar se opleiding) en ingeskrewe assistentverpleegsters (met ’n jaar se opleiding) was massief, onderskeidelik 70,5% en 42%.
Dit kan waarskynlik toegeskryf word aan die groot getal verpleegsters wat inskryf vir vierjaargrade, maar hul studies laat vaar en eerder in die laer kategorieë registreer.
Verlede jaar was daar een geregistreerde verpleegster vir elke 428 mense in die land.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld