SA krap kop oor Winnie se hospitalisasie
2011-11-23 12:06
Johannesburg – Dit is nie bekend of Winnie Madikizela-Mandela (75), voormalige vrou van oudpres. Nelson Mandela, steeds in die hospitaal is nie.
Erin Walsh, 'n woordvoerder van die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg, het gesê sy is nie by magte om oor die kwessie te praat nie.
Dít is omdat sy slegs Vrydag deur die Mandela-familie gemagtig is om Vrydag te sê Madikizela-Mandela is vir mediese waarneming in die hospitaal opgeneem.
Die ANC-vroueliga kon ook nie sê of Madikizela-Mandela ontslaan is nie.
Madikizela-Mandela is verlede Vrydag in die hospitaal opgeneem vir 'n diabetes-verwante toestand, het Zindzi Mandela, haar dogter, in 'n verklaring gesê.
Jackson Mthembu, woordvoerder van die ANC, het Dinsdag gesê hy glo sy was nog Maandag in die hospitaal, maar het sedertdien geen inligting ontvang nie.
Hy kon nie Woensdag onmiddellik kommentaar lewer nie, omdat hy in 'n vergadering was.
Mthembu het Dinsdag gesê die party sal 'n verklaring uitreik wanneer Madikizela-Mandela uit die hospitaal ontslaan word.
Madikizela-Mandela is in September vir 'n operasie aan haar enkel in die Life Brenthurst-kliniek in Parktown opgeneem.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA