'SA kort meer Vigs-navorsing'
2009-08-05 10:20
Johannesburg- Die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, het Woensdag ‘n beroep gedoen op die vervaardigers van generiese medisyne om meer tyd te spandeer op die navorsing van die langtermyn newe-effekte van antiretrovirale behandeling.
Volgens Motsoaledi is Vigs ‘n kroniese siekte wat in sommige gevalle vereis dat persone reeds medikasie op 20-jarige ouderdom moet gebruik.
Dit beteken dat sommige pasiënte dié medisyne vir tot solank as 50 jaar sal moet gebruik.
Motsoaledi is glo bekommerd oor die newe-effekte van die langtermyn gebruik van antiretrovirale medisyne.
Hierdie opmerkings is gemaak in ‘n toespraak wat namens Motsoaledi by die konferensie vir generiese medisyne in Sandton gelewer is.
Die minister moes op die laaste oomblik van die konferensie onttrek en sy toespraak is deur Anban Pillay, hoofdirekteur van finansiële beplanning by die departement, voorgelees.
–Sapa