SA kinders vroeg seksueel aktief
2011-09-26 08:08
Johannesburg – Baie Suid-Afrikaanse kinders het vir die eerste keer seks wanneer hulle tussen die ouderdomme van 14 en 15 is, berig The Star.
'n Studie wat deur die Navorsingsraad oor Menslike Wetenskappe (HSRC) gedoen is, het bevind dat ouers vanaf vyfjarige ouderdom met hul kinders praat oor seksualiteit.
Die studie het ook bevind dat slegs die helfte van die kinders wat aangedui het dat hulle seksueel aktief is, 'n kondoom gebruik het toe hulle die laaste keer seks gehad het.
Die navorsing toon verder dat wanopvattings en mites, wat verder bydra tot verdere onveilige seksuele praktyke, ontstaan wanneer sleutelfigure stilbly oor seksuele kwessies.
Die HSRC het aanbeveel dat die basiese onderwyskurrikulum aangepas word om "akkurate en omvattende inligting" in te sluit.
Sowat 2 000 kinders en hul ouers in die Wes-Kaap, Limpopo, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal het deelgeneem aan die studie.
Slegs 49% van die kinders het gesê hulle het 'n kondoom gebruik toe hulle die laaste keer seks gehad het. Meer as die helfte van die kinders het gesê hul ouers weet nie van hul seksuele aktiwiteit nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA