'SA hoef nie bekommerd te wees'
2011-01-27 12:12
Johannesburg – "Suid-Afrika hoef nie te bekommer nie," het Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, Donderdagoggend aan Beeld gesê.
Hy het bevestig die regerende party se leierskap sal oudpres. Nelson Mandela, wat Woensdag vir roetine-ondersoeke in die Milpark-hospitaal opgeneem is, Donderdag besoek.
“Die leierskap sal by hom gaan kuier, maar ons sal dit een-een doen. Ons wil nie om hom saamdrom nie. Mense hoef nie bekommerd te wees nie,” het Mantashe gesê.
Intussen verneem Beeld uit betroubare bronne Mandela kan moontlik ná middagete huiswaarts keer. Die besluit om hom te laat oornag is glo geneem om hom die minste ongerief te veroorsaak en om mediese toetse, insluitend bloedtoetse en x-strale, te vergemaklik.
Sy persoonlike dokter praktiseer by Milpark en hy is ook glo deur ‘n internis en pulmonoloog ondersoek.
Mandela word in ‘n afgesonderde eenheid in die hospitaal behandel en alle personeel wat naby hom werk of met hom in kontak kom, het gister reeds vetroulikheidsooreenkomste onderteken.
Hy was Donderdaoggend glo steeds nie enigsins in lewensgevaar nie en mense met noue kennis van sy behandeling het laat weet “dis bloot die ondersoek van ‘n ou man van 92”.
Intussen is daar steeds geen amptelike inligting van die Nelson Mandela-stigting óf Milpark-hospitaal nie. Gerugte oor ‘n perskonferensie om 10:00 kon nie by Sello Hatang (Mandela-stigting) of Erin Walsh (Milpark) bevestig word nie.
Intussen het die ANC 'n verklaring uitgereik waarin hulle om kalmte vra en het die media versoek om nie onnodig oor Mandela se gesondheid te bespiegel nie.
“Dit is ‘n feit: Mandela is 92 jaar oud en nie meer 'n jong man nie. Kom ons almal laat die dokters toe om hul bes te doen wanneer hulle toetse op ons veteraan-staatsman doen. Ons kan bevestig daar word goed na Madiba omgesien.
“Ons doen ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners om kalm te bly en nie die paniekknoppie te druk nie omdat daar hoegenaamd geen rede daarvoor is nie. Ons sal Suid-Afrikaners inlig as daar enige verandering is, insluitend sy ontslag uit die hospitaal,” lui die verklaring.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA