SA hét leierskap – Zuma
2012-11-16 07:15
Kaapstad – Die bewering dat daar geen leierskap in Suid-Afrika is nie, is "heeltemal buite orde", het pres. Jacob Zuma Donderdag in die parlement gesê.
Zuma het in reaksie op vrae in die Nasionale Vergadering gesê die leierskap in die land kan in verskeie kategorieë verdeel word – in politieke partye, die regering en inwoners.
Hy het reageer op Mosiuoa Lekota, leier van Cope, se stelling dat Suid-Afrika dringend leierskap benodig en dat die inwoners se leierskap van die regering af moet kom.
"Op die oomblik is die land in 'n warboel; die vlakke van onrus en burgerlike ongehoorsaamheid neem elke dag toe. Werkers verloor daagliks hul lewens. Daar is teenstrydige boodskappe wat van die ministers af kom," het hy gesê.
"Ons situasie gaan heeltemal onhoudbaar word. Buitengewone omstandighede en toestande vereis buitengewone pogings van die leierskap.
"Ek wil die vraag vra, mnr. president, hoekom is jy so stil? Hoekom sien ons nie deurslaggewende leierskap van jou kant af nie?"
Zuma het geantwoord dat leierskap nie "selektief" moet wees nie.
"Een van die interessante dinge is 'n betekenis van die leierskap van die land. Nou ek weet nie wat ons in die parlement het nie – of dit nou leiers van hul eie partye is nie.
"En die pertinente vraag, wat doen hulle in dié huis om leierskap aan die land as verteenwoordigers van die publiek te gee? Nou hoekom moet die vraag selektief wees? Is dit nie 'n leierskap nie? Is jy nie 'n leier nie?" het Zuma gevra.
"Die bewering, dat daar geen leierskap in die land is nie, is heeltemal buite orde. Daar is 'n leierskap in die land wat jy in verskillende kategorieë kan verdeel. In politieke partye... daar is 'n leierskap in die regering, daar is 'n leierskap in die gemeenskap.
"Dit is hoekom die leierskap onmiddellik in beweeg het toe Marikana beweeg het. Die kerk, die tradisionele leiers, die regering," het hy gesê.
Zuma het ook ontken dat kabinetsministers teenstrydige boodskappe uitstuur.
– Volg Nuus24 op
Twitter
- SAPA