SA 'het gestem om korrupsie te beskerm'
2011-11-24 08:06
Kaapstad – Die aanvaarding van die muilband-wetsontwerp op Swart Dinsdag sal die land se ekonomiese vooruitsigte verdere skade berokken.
Só het Alan Winde, Wes-Kaapse minister van finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, Woensdag in sy beleidstoespraak oor die mediumtermyn-begroting vir 2012 tot 2015 in die provinsiale parlement gesê.
Hy het gesê die wêreldwye moeilike ekonomiese klimaat maak dat die Wes-Kaapse regering meer met minder moet doen, wat beteken hy moet meer gefokus wees.
Hy was krities oor die nasionale regering en het gesê die “hoogste politieke ampte” moet aansprake op regeringsinmenging in die ekonomie verwerp.
“Nasionalisering, die herverdeling van grond en rigiede vakbonde – sogenaamde kitsoplossings met vernietigende langtermyn-gevolge – skaad ons vermoë om beleggings vir groei en werkskepping te lok.”
Onder uitroepe uit die ANC-banke het hy bygevoeg: “Ek moet noem dat gister (Dinsdag) se aanvaarding van die muilband-wetsontwerp verdere skade aan ons ekonomiese vooruitsigte sal doen.”
Max Ozinsky, ANC-LPP, het uitgeroep: “Daar is geen muilband-wetsontwerp nie!”
Volgens Winde het buitelandse media ’n duidelike boodskap wêreldwyd gestuur dat Suid-Afrika gestem het om die korrupte elite teen die media te beskerm.
“Wie sal met ons wil sake doen as ons onsself as diewe en skelms gebrandmerk het?”
Hy is ook “woedend omdat daar steeds mense is wat ander deur hul nalatige en selfsugtige gedrag skade berokken”.
“Die burgers van dié provinsie moet gesamentlik verantwoordelikheid aanvaar om sosiaal vernietigende gedrag uit te roei,” het hy gesê.
Die ANC was nie juis beïndruk met die mediumtermyn-begrotingsbeleid nie.
Lynne Brown, ANC-LPP en leier van die opposisie in die Wes-Kaapse parlement, het dit as ’n verlore geleentheid beskryf. “Dit spreek nie tot wat vir die mense belangrik is nie.”
Sy het Winde se kritiek teen die regering en nasionale parlement se aanvaarding van die wetsontwerp op die beskerming van inligting as “kleinlike politiekery” afgemaak.
“Hy sit in ’n posisie waar hy besluite kan neem om mense ’n beter lewe te gee, en hy speel politiek,” het sy gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger