SA hawens ‘gewilde poort vir dwelms’
2011-06-28 06:58
Suid-Afrikaanse hawens is ’n gunsteling-poort op Afrika se “kostedoeltreffende handelsroete” vir dwelms na die res van die wêreld.
Só het Mandiaye Niang, streekverteenwoordiger van die Verenigde Nasies (VN) se kantoor vir dwelms en misdaad, gister by die uitreiking van vanjaar se wêrelddwelmverslag in Pretoria gesê.
Volgens Niang kom die meeste heroïen wat na Afrika ingevoer word via Suid-Afrika en minstens 40% van kokaïen waarmee hier handel gedryf word, is op pad na Europa.
Die verslag toon tot 272 miljoen (6,1%) mense van 15 tot 64 jaar oud het in 2008 minstens een keer ’n onwettige middel gebruik.
Die helfte van hulle was huidige dwelmgebruikers en sowat 15 miljoen tot 39 miljoen is as “probleemgebruikers” geklassifiseer. Laasgenoemde is afhanklik van dwelms en spuit hulle ook daarmee in.
Die VN het bevind dagga is die gewildste dwelm en tussen 3,8% en 10,4% van Afrikane gebruik dit, die tweede grootste gebruik ter wêreld.
Die inhoud van daggaprodukte is boonop meer gekonsentreerd as ’n dekade gelede.
Volgens Niang is in ’n studie in Kenia bevind meer as 42% van mense wat hulle met heroïen inspuit, is MIV-positief, waarskynlik omdat hulle spuitnaalde deel of onveilige seks het.
Wêreldwyd is sowat een uit vyf mense wat hulle met dwelms inspuit MIV-positief en sowat die helfte met hepatitis C besmet, lui die verslag.
Die verslag toon Nigeriese misdaadsindikate oorheers die dwelmhandel in Afrika en die mark is sowat R22 miljard ($3,2 miljard) werd.
Wes-Afrika is glo die hoofhandelsroete vir kokaïen na Europa.
’n Onlangse neiging is glo om nuwe sintetiese verbindings as “wettige” dwelms te bemark omdat dit nog nie oral gereguleer word nie.
Dit sluit sintetiese dagga in, asook piperasien, waarvan afgeleide vorms in sekere medisyne voorkom, en mefedroon, ’n ontwerpersdwelm wat die laaste paar jaar in verskeie lande onwettig verklaar is.
Tussen 104 000 en 263 000 mense sterf jaarliks weens dwelmgebruik, hoofsaaklik weens oordosering, word geraam.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld