SA gyselaar in Nigerië amper tuis
2010-03-09 16:39
Johannesburg - Nick Greyling, die Suid-Afrikaner wat verlede week in Nigerië ontvoer en gyselaar gehou is, kan teen Woensdag herenig word met sy familie.
Caroline Creasy van Multichoice Africa, Greyling se werkgewer, het Dinsdag gesê die maatskappy probeer hom "so gou as moontlik" by die huis kry.
Greyling (48) en drie Nigeriërs wat vir M-Net se SuperSport-kanaal werk, is verlede week in die Nigeriese deelstaat Imo deur ’n groep gewapende mans gyselaar geneem. Hulle was saam met 18 ander kollegas in ’n bus op pad na die Oweri-lughawe.
Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het Dinsdag geweier om enige inligting bekend te maak oor of ‘n losprys betaal is vir die vrylating van Greyling.
“Ons kan nie sulke besonderhede bekend maak nie. Ek dink ons moet dit oorlaat aan Greyling, as hy sulke besonderhede bekend wil stel,” het woordvoerder Nomfanelo Kota gesê.
AFP het vanuit Nigerië berig dat sekuriteitsmagte in die land gesê het dat $100 000 (sowat R745 000) as losprys betaal is.
Greyling, ‘n klankingenieur vir M-Net se Supersport, is Maandagaand deur sy Nigeriese ontvoerders vrygelaat.
- Sapa