SA gesinne diep in die skuld – Manuel
2011-11-03 12:15
Johannesburg – Suid-Afrika is 'n nasie van gesinne wat diep in die skuld is, het Trevor Manuel, minister in die presidensie, Donderdag gesê.
"Om van hand tot mond te lewe is 'n doodslokval," het Manuel aan afgevaardigdes op 'n nasionale verbruikersforum by die Gallagher Konferensiesentrum in Midrand gesê.
"Wat ons volgende jaar gaan verdien, is alreeds spandeer."
Manuel het gesê daar is 18,84 kredietaktiewe mense in Suid-Afrika – dubbel die aantal mense in formele diens.
Sowat 8,8 miljoen van die 18,84 miljoen het gebrekkige krediet.
"Hulle is in die moeilikheid," het Manuel gesê.
"Dit is 'n skokkende getal, maar 'n getal wat weens omstandighede styg."
Dít is oor besteding.
"Ons het geld spandeer wat ons nog nie verdien het nie, en spandeer op dinge wat ons nie nodig het nie," het Manuel gesê.
"Ons probeer byhou met die Kunene's."
Dit is hoekom Suid-Afrika homself in 'n skuldlokval bevind.
Manuel het gesê die beskerming en regte van verbruikers moet uitgeoefen word.
"Ons verskaf nie beskerming aan elke persoon nie."
Manuel het egter gevra of verbruikers se vryheid weggeneem word as hulle gehelp word om nie in die skuld te beland nie.
"Dalk soek ons die verkeerde oplossing."
Suid-Afrika het 'n lae spaarkoers en dus leen mense geld teen noodkoerse.
"Daar is geen kussing nie," het Manuel gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA