SA ‘gaan nie Kersvader speel’ vir China
2011-01-10 09:30
Polokwane - Suid-Afrika “gaan nie Kersvader speel” en sy hulpbronne aan China weggee nie.
Só het mnr. Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, die afgelope naweek op die regerende party se 99ste verjaardagvieringe hier gesê.
Die ANC se 8Januarie-verklaring, wat deur pres. Jacob Zuma aan ’n geraamde 75000 mense in twee stadions voorgelees is, het sterk klem op die ekonomie en werkskepping geplaas en beklemtoon die tyd vir doelgerigte ingrypings is hier.
Die naweek se feesvieringe is bygewoon deur ’n groot Chinese sake-afvaardiging, wat getrakteer is op toegang tot die regerende elite se magshebbers en vyfster-behandeling.
’n Aantal Chinese sakelui het Vrydagaand op ’n spogdinee, wat deur die ANC se Progressiewe Sakeforum (PBF) gereël is, alleen saam met adj.pres. Kgalema Motlanthe aan tafel gesit terwyl hul kollegas in ’n ry by die hooftafel langsaan gestaan het om die staatshoof te ontmoet.
Mnr. Collins Chabane, minister in die presidensie, is ook op verskeie geleenthede opgemerk waar hy in diep gesprek met Chinese sakelui en diplomate verkeer het.
Mantashe het gesê China se lus vir Afrika se hulpbronne is ’n realiteit. “Dit is egter nie ’n rede om bang te wees nie. Ons gaan nie Kersvader speel (wanneer onderhandel word) nie en sal slim moet wees wanneer ons sake doen. Onthou, dis nie net China wat iets by ons wil hê nie, ons wil ook dinge by China hê.”
Zuma het in sy toespraak gesê Suid-Afrika kan nie bekostig om ’n blote verskaffer van rou materiale te word nie en hy moet ’n gediversifiseerde ekonomie met ’n moderne vervaardigingsektor vestig.
Suid-Afrika se betrekkinge met China het verlede jaar nuwe hoogtes bereik toe Zuma ’n amptelike besoek aan Beijing en Motlanthe se ampsgenoot ’n besoek aan Suid-Afrika gebring het.
Die betrekkinge is verder verstewig toe China ’n uitnodiging aan Suid-Afrika gerig het om by die invloedryke Bric-groepering (Brasilië, Rusland, Indië en China) aan te sluit.
Die twee lande se ontluikende vriendskap gaan vandeesweek ook een van die vernaamste besprekingspunte op die lekgotla van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) wees.
Zuma het in sy toespraak toegegee hoewel die land se ekonomie sedert 1994 gegroei het, trek nie almal daaruit voordeel nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger