SA fotograaf bekroon vir omstrede foto
2011-02-11 16:31
Amsterdam – Jodi Bieber, Suid-Afrikaanse vryskutfotograaf, se omstrede foto van die erggeskende 18-jarige Afgaanse vrou Bibi Aisha, is as die Wêreld-persfoto vir 2010 aangewys.
Dié foto het op 1 Augustus op die voorblad van die Amerikaanse nuustydskrif Time verskyn.
Bibi was jonk getroud en gereeld geslaan, maar toe sy probeer vlug, is sy deur die Taliban gestraf. Sy is na 'n tronk in Kandahar geneem, waar haar man haar gekry en haar ore en neus afgesny het, is vroeër berig.
Hy het haar halfdood in die berge van Oruzgan agtergelaat, waarna sy haarself na haar pa se huis gesleep en dié haar vir behandeling na 'n Amerikaanse weermaghospitaal geneem het.
Jurielede het Vrydag gesê hoewel die foto skokkend is, is dit gekies omdat dit geweld teen vroue met 'n waardige beeld aanspreek.
Die 18-jarige Bibi is deur die weermag gered en woon nou in Amerika.
Volg Nuus24 op Twitter