SA druip gelykheid voor die reg
2011-03-21 08:59
Kaapstad - Terwyl Suid-Afrikaners regoor die land vandag Menseregtedag vier, toon ’n rapportkaart hieroor dat die land swak vaar wat betref gelykheid voor die reg, onderwys, vryheid tot handel en toegang tot inligting.
Die Sentrum vir Grondwetlike Regte se derde jaarlikse rapportkaart laat Suid-Afrika weer, net soos in 2010, met ’n E-simbool druip vir gelykheid.
Die rede is hoofsaaklik pres. Jacob Zuma se verhouding met die veroordeelde bedrieër Schabir Shaik, wie se omstrede vrylating op mediese parool die beginsel van gelykheid voor die reg ernstig ondermyn.
By gelykheid word vryheid van onregverdige diskriminasie ook ingesluit. Voorgestelde wysigings aan die wet op billike indiensneming, waaronder groot getalle bruin en Indiërwerkers dalk hul werk kan verloor, word hier gelys as ’n negatiewe faktor.
Zuma sal later vandag die hooftoespraak lewer by die regering se hoofvieringe in die Athlone-stadion. Mnr. Jeff Radebe, minister van justisie, en me. Patricia de Lille, Wes-Kaapse minister vir maatskaplike ontwikkeling en die DA se burgemeesterskandidaat in die komende munisipale verkiesing, sal ook teenwoordig wees.
Me. Helen Zille, DA-leier en premier van die Wes-Kaap, sal ’n saamtrek in Mpumalanga toespreek.
Luidens die rapport bly Suid-Afrika ’n funksionerende veelparty grondwetlike demokrasie met ’n menseregtehandves wat ’n volle spektrum regte aan burgers verseker.
Sekere van die belangrike regte is egter in die afgelope jaar verswak deur middel van wetgewing, regeringsoptrede of deur die regering se mislukking om dienste te lewer.
Die sentrum gee Suid-Afrika ook ’n E-simbool vir lewensgehalte. Meer as 17 000 mense is in die 2009-’10-boekjaar vermoor. Dit gee die land ’n moordsyfer van 34,1 per 100 000 mense, wat dit die hoogste ter wêreld maak.
’n Verdere 5,7 miljoen mense het MIV/vigs – ook die hoogste in die wêreld. Altesame 190 000 mense is verlede jaar dood weens vigs.
Die land het ’n D-minussimbool gekry vir vryheid van handel en beroep. Ofskoon dié vryheid formeel beskikbaar is, ontneem die hoë werkloosheidsyfer van 35,9% miljoene Suid-Afrikaners hiervan.
Ongebalanseerde regstellende aksie wat Suid-Afrikaners verhoed om ’n beroep van hul keuse uit oefen, dra ook by tot ’n skending van die reg.
Vir onderwys kry die land nog ’n E-simbool, dieselfde as verlede jaar. Luidens die verslag is die onderwysstelsel in Suid-Afrika ’n algehele mislukking, ongeag enorme bedrae wat die regering sedert 1994 hierin belê het.
Suid-Afrika het sy goeie punte behou vir die afwesigheid van slawerny en gedwonge arbeid, vir vryheid van geloof, vryheid van assosiasie, vryheid van beweging en arbeidsverhoudinge. Hiervoor is A-simbole weer toegeken.
Wat betref omgewingsake het die land ietwat verbeter van ’n C-simbool verlede jaar tot ’n C+.
’n Swakker punt is toegeken vir toegang tot inligting, van ’n C-simbool tot ’n D. Dit is hoofsaaklik oor die voorgestelde wetsontwerp op die beskerming van inligting, wat toegang tot inligting in besit van die staat sal beperk.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger