'SA boere moet voorbeeld stel in Afrika-lande'
2011-09-13 09:00
Stellenbosch – Suid-Afrikaanse boere moet waak teen “onverantwoordelike” landboubeleggings in sekere Afrika-lande, het Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, gesê.
Sy het verwys na buitelanders wat vrugbare landbougrond in sommige Afrika-lande koop om voedselsekuriteit in hul lande van herkoms te verseker.
Die minister het afgevaardigdes van die Wêreldlandbou-organisasie gister by die Spier-landgoed toegespreek.
“Ons beskou dit as onverantwoordelike investering wanneer sommige buitelanders vrugbare grond in ’n ander land aankoop. Hulle koop nie net die grond nie, maar bring die mense om te werk, hul eie saad, kunsmis en trekkers saam. Hulle kom dus basies net die gasheerland se grond gebruik om voedselsekuriteit in hul eie lande te verseker.
“Sodra die grond uitgeput is, beweeg hulle aan. Dit is dieselfde manier waarop multinasionale maatskappye produkte soos goud in ’n land ontgin en dit uitvoer. Dit hou geen voordeel vir die plaaslike inwoners in nie.
“Ek weet dit gebeur in Suid-Soedan en ander lande, maar Suid-Afrika is baie beskermd wat wetgewing rondom grond betref.”
Suid-Afrikaanse boere wat na ander lande op die vasteland uitwyk, moet egter teen dié praktyk waak. “Ons wil nie hê ons boere moet hulle daaraan skuldig maak nie. Ons wil hê hulle moet ’n voorbeeld stel,” het sy gesê.
Voordeel vir plaaslike inwoners is van kardinale belang. “Ons in Suid-Afrika wil hê daar moet ’n oordrag van vaardighede wees.”
Sy het benadruk dat vakbonde en die landboubedryf deel moet wees van besluitneming en gesê die regering moet boerdery in die hande van die boere los.
“Die regering boer nie. Ons kan hulle net bystaan. Ons kan hulle help met voorligtingsbeamptes, maar die tegnici in ons departement kan nie boer nie. Die vaardigheid van boerdery lê by die boere, nie die regering nie.
“As die regering sonder die boere besluite neem, vorm hy beleid sonder die insae van mense wat eintlik moet boer. Jy kan nie beleid vorm oor swem sonder dat jy met die swemmers praat nie. Dus kan jy nie beleid vorm oor landbou, visserye of bosbou sonder om die betrokkenes te raadpleeg nie.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger