SA boere kyk noord
2012-11-20 10:20
Johannesburg – Meer as 50 boere per maand doen die laaste ruk by Agri SA navraag oor dié organisasie se betrokkenheid by landbouprojekte in Afrika, het Beeld Dinsdag berig.
In die laaste twee weke het talle boere uit die Wes-Kaap ook begin navraag doen, het Dirk Hanekom, uitvoerende hoof van AgriSAMos, gesê.
Volgens Hanekom het sowat 950 Suid-Afrikaanse boere reeds belange in Mosambiek.
“So 60% van hulle is aktief betrokke. Die Suid-Afrikaners is by ’n wye verskeidenheid boerderye betrokke waarvan suiker-, piesang- en beesboerdery die grootste is,” het Hanekom gesê.
Suid-Afrikaanse boere is ook al in Botswana, Zambië en die Kongo (Brazzaville) betrokke, terwyl 28 Afrika-lande by Agri SA kom aanklop het om voedselsekerheid in hul lande te help bewerkstellig, het dr. Theo de Jager, visepresident van Agri SA, gesê.
Volgens hom is daar hoofsaaklik drie redes waarom Suid-Afrikaanse boere in ander Afrika-lande wil gaan boer.
“Daar is die grondeise wat onsekerheid bring – daar is nie ’n piesangplaas waarop daar nie ’n eis is nie – en ook die insetkoste (veral elektrisiteit) en arbeidskoste wat baie hoog is. In Mosambiek byvoorbeeld kos elektrisiteit net ’n fraksie van wat dit in Suid-Afrika kos,” het De Jager gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA