SA boere besoek toe nie die Kongo
2010-02-05 00:57
Alani Janeke
Kaapstad - Die beplande besoek aan die Kongo (Brazzaville) deur ‘n groep van 12 Suid-Afrikaanse boere om grond daar te identifiseer waarop hulle wil boer, het nie plaasgevind nie.
Die besoek was aanvanklik gereël nadat Agri SA en die Kongolese regering verlede jaar ‘n generiese ooreenkoms onderteken het.
Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA, sê hulle het intussen besluit dat boere wat deur dié ooreenkoms in die Kongo wil belê, ‘n voorlopige keuringsproses moet deurgaan. Hy sê hulle het reeds ‘n voorlopige dokument, waarin die keuringsproses in stappe beskryf word, opgestel.
Die dokument sal volgende week aan Agri SA se uitvoerende komitee vir goedkeuring voorgelê word. Volgens De Jager sal hulle met behulp van dié dokument aanbevelings maak rakende die toekenning van grond aan Suid-Afrikaanse boere.
Die betrokke boer se ervaring sal onder meer in ag geneem word, en ná die boer se eerste besoek aan die Kongo sal hy of sy ‘n volledige sakeplan moet voorlê wat beoordeel sal word.
De Jager sê intussen het Agri SA gister met regeringsamptenare van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) vergader.
Vir die volledige storie, besoek landbou.com.