SA 49ste op indeks oor veiligheid
2010-05-26 08:34
Cobus Coetzee, Die Burger
Kaapstad - Suid-Afrika beklee die 49ste plek op ’n indeks van lande waar konflik en gebrek aan veiligheid die ergste negatiewe impak op die samelewing het.
Mianmar (Birma) is eerste op die indeks, gevolg deur die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), het Jason McGeown, woordvoerder van die risiko-ontledingsmaatskappy Maplecroft, gister gesê.
Zimbabwe is no. 17 op die indeks en is ’n “hoë risiko” weens onder meer politieke geweld.
Die Africa Progress-paneel, ’n paneel van Afrika-leiers, het gister op Afrika-dag in Johannesburg ’n verslag oor die stand van vordering op die vasteland uitgereik.
Die inligting daarin oor veiligheid is op Maplecroft se navorsing gegrond.
Luidens die verslag is konflik en gebrek aan veiligheid en die impak daarvan op die samelewing ’n “mediumrisiko”-probleem in Suid-Afrika.
Die hoë misdaadsyfer het meegebring dat die veiligheidsituasie in Suid-Afrika met dié in onder meer Madagaskar – wat onlangs ’n staatsgreep beleef het – Kameroen, Mali en Niger vergelyk word.
Namibië, Botswana, Gaboen, Swaziland, Togo en Benin vaar almal beter as Suid-Afrika wat veiligheid betref.
Georganiseerde misdaad, korrupsie en klimaatsverandering is van Afrika se grootste bedreigings, is bevind.
“Veiligheidsprobleme neem toe en dele van die vasteland wat onregeerbaar is, vergroot,” het Kofi Annan, vorige sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies en voorsitter van die paneel, gewaarsku.
Oudpres. Olusegun Obasanjo van Nigerië meen veiligheid en sekerheid, asook goeie leierskap, is van die belangrikste kwessies wat aandag in Afrika moet kry.
Die Suid-Afrikaanse regering het tussen 2005 en 2009 op drie van die agt indekse oor die stand van regering slegter gevaar, insluitend die Mo Ibrahim-, Freedom House- en Bertelsmann-indeks, lui die verslag.
Op drie indekse het die land se posisie verbeter en op twee het dit dieselfde gebly.
Zimbabwe se posisie het op ses van die agt indekse verswak.
Annan het ook teen die tendens gewaarsku waar net elite-groepe in Afrika-lande voordeel uit die lande se rykdomme trek.
Hy meen Afrika moet belê in beter instellings waaruit ’n groter poel van leiers ontwikkel kan word.
“Te veel Afrikane bly arm. Daar word geskat dat 265 miljoen Afrikane chronies honger is en 15 miljoen kinders nie toegang tot basiese onderwys het nie,” het hy gesê.
“Klimaatsverandering vererger weerloosheid en vergroot die aantal krisisse wat die vasteland beleef.”
Die paneel het aanbeveel dat Afrika die impak van aardverhitting in al sy beplanning in aanmerking neem en daarop fokus om vroue te bemagtig.