Rybewyse word in dié gevalle opgeskort
2011-12-30 07:41
Kaapstad – Motoriste wat die snelheidsperk op Suid-Afrika se paaie
met meer as 40 km/h oorskry, loop die gevaar om hul rybewyse kwyt te
wees.
Logan Maistry, woordvoerder vir Sibusiso Ndebele,
minister van vervoer, het gister gesê die opskorting of kansellering van
rybewyse kan op die toneel geskied sonder dat die oortreder enigsins in
’n hof verskyn.
Maistry het gesê meer as 75 700 rybewyse en professionele
bestuurspermitte is oor die laaste vyf jaar gekanselleer en ’n verdere
3 000 is opgeskort. Vanjaar alleen is 11 500 rybewyse of permitte
gekanselleer of opgeskort.
Volgens hom beroep die departement hom op art. 25(1)b van die Wet
op Nasionale Padverkeer om die kansellasies en opskorting deur
verkeersowerhede te wettig.
“Die wet is baie duidelik. Dit maak melding van drie tipe
oortredings op grond waarvan rybewyse gekanselleer kan word, naamlik
dronk-, roekelose en nalatige bestuur, asook spoedoortredings van meer
as 30 km/h op ’n stedelike pad of meer as 40 km/h buite die stad.”
Die wet stippel ook die strawwe vir sulke oortredings uit.
“’n Eerste oortreder se rybewys kan vir ses maande opgeskort word
en ’n tweede oortreding kan ’n opskorting van vyf jaar meebring, terwyl
’n derde oortreding kan beteken dat jou rybewys vir tien jaar opgeskort
word.”
Maistry het beklemtoon dat dié bepalings reeds geruime tyd in
wetgewing vervat word, maar dat dit op ’n “gefragmenteerde” wyse
toegepas word.
“Die minister wil nou hê dit moet strenger toegepas word. Hy gaan
saam met die nasionale vervolgingsgesag werk om te verseker dat dit
gedoen word,” het hy bygevoeg.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger