Rugbyspeler verdrink, spanmaats vermis
2012-03-25 22:06
Johannesburg – ‘n Rugbyspeler van Motherwell het verdrink en vyf van sy spanmaats word vermis nadat hulle Sondag deur trekstrome meegesleur is by die Bluewater Bay-strand in die Oos-Kaap.
Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het gesê 15 van 21 mense wat vroeër die dag deur die trekstrome meegesleur is, is gered.
“Nie almal van hulle was rugbyspelers nie,” het Craig Lambinon, woordvoerder, gesê.
Hy het egter bevestig dat die oorledene ‘n lid van die rugbyspan was en dat die vyf vermistes spanmaats van hom was.
Lambinon het gesê dit was een voorval waarin verskeie mense meegesleur is.
Die reddingspan is omstreeks 12:00 van die voorval ingelig.
‘n Uitgebreide soektog na die vermiste mans is van stapel gestuur.
Volgens Lambinon is drie seereddingsbote, drie rubberbote, ‘n waterponie en ‘n helikopter ingespan in die soektog.
Lewensredders het ook gehelp in die soektog.
Teen Sondagmiddag was daar geen teken van die vyf vermistes nie.
Lewensredders het uitgeswem om mense te help toe die voorval plaasgevind het.
“Sommige van die lewensredders het tot drie mense op ‘n slag uit die water gehelp,” het Lambinon gesê.
“Van die 15 mense wat gered is, moes niemand hospitaal toe gaan nie, alhoewel sommige op die strand deur paramedici behandel is vir skok en ander simptome.”
Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het sy medelye uitgespreek aan die Motherwell-rugbyklub.
“Ek het met die president van die Oostelike Provinsie Kings-rugbyunie en lede van die gemeenskap gepraat en dit is ‘n verskriklike tragedie,” het Oregan Hoskins, Saru-president, gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA