Rugbyspeler glo steeds in aanhouding
2010-08-27 17:47
Johannesburg – Inligting rondom die moord van ‘n metropolisiebeampte van Pretoria was teen Vrydagmiddag nog baie onduidelik.
Daar is vroeër berig dat ‘n Blou Bul-stut glo weens die voorval, wat Vrydagoggend plaasgevind het, by die Sunnyside-polisiestasie in aanhouding is.
Die 38-jarige slagoffer is intussen as Ntshimane Johannes Mogale geïdentifiseer.
Na bewering het die voorval vroeg Vrydagoggend op die hoek van Schoeman- en Richardstraat plaasgevind nadat die beampte ‘n verdagte weens dronkbestuur voorgekeer het.
Volgens Dikeledi Lehobye, Tshwane-burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, het hul reeds met twee ander beamptes oor die voorval probeer praat, maar was hul erg getraumatiseer deur die gebeure.
Sy wou nie meer sê nie omdat ‘n rugbyspeler in verband met Mogale se dood in aanhouding is.
“Ons sien hierdie voorval in ‘n baie ernstige lig,” het Lehobye gesê.
Mogale was glo reeds vier jaar lank ‘n lid van die metropolisie.
Die rugbyspeler se regsverteenwoordiger het vroeër nog gepoog om sy kliënt in die hof te laat verskyn voor die naweek.
“Daar was ‘n voorval en ‘n polisiebeampte is dood. Ek weet die verdagte was betrokke. Ek weet nie hoe hy betrokke was nie, ek kan nie sê nie,” het die rugbyspeler se regsverteenwoordiger, Ernst Serfontein, gesê.
Kapt. Katlego Mogale (geen verband met die slagoffer), polisiewoordvoerder, het bevestig dat ‘n rugbyspeler in aanhouding is.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA