Rugbylegendes help betaal vir Joost se toetse
2011-06-27 07:03
Die Suid-Afrikaanse Rugbylegendesvereniging gaan help betaal vir Joost van der Westhuizen se Amerikaanse besoek “omdat dit maklik is om iemand wat foute maak, vinnig te skop, maar mense is stadig om dieselfde persoon te help as hy werklik probleme het”.
Só het John Allan, uitvoerende hoof van die vereniging en voormalige Springbok-haker, gister gesê oor die geldhulp wat die vereniging aan Van der Westhuizen gaan gee om neurologiese ondersoeke in die VSA te ondergaan.
Die geldhulp “kom eintlik uit die sak van die administrateur van die vereniging se presidentsfonds, Gavin Varejes”.
Die aankondiging die naweek dat Van der Westhuizen se toestand steeds nie as motorneuron-siekte bevestig kan word nie en dat hy na die VSA gaan, sal ook die laaste openbare aankondiging daaroor wees totdat ’n finale bevinding bekend is.
Sy woordvoerder, Bridget van Oerle, het gister gesê dit dien geen doel dat verklarings uitgereik word voordat ’n finale diagnose gedoen is nie.
Volgens dr. Jody Pearl, die neuroloog wat Van der Westhuizen die laaste vier weke intensief ondersoek en behandel het, het Van der Westhuizen nie gunstig op behandeling gereageer nie.
“Die diagnose van motorneuronsiekte bly dus ’n moontlikheid. Ek en Joost sal as gevolg daarvan na die VSA reis waar wêreldbekende kundiges en navorsers by die Cleveland- mediese sentrum in Ohio ons sal bystaan om ’n finale diagnose te maak.”
Sy het gesê “ondanks die erns van die situasie” bly Van der Westhuizen positief.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld