Ruby se straf ligter gemaak
2011-12-23 09:40
Kaapstad – Die tronkstraf van Ruby Marais, wat haar man laat vermoor het, is Donderdag deur die Wes-Kaapse hooggeregshof verminder nadat sy teen haar vonnis van lewenslange tronkstraf geappelleer het.
Haar jare lange mishandeling deur haar man, Basie Marais, het ’n rol in haar verminderde vonnis gespeel. Haar vonnis van lewenslank is na 20 jaar tronkstraf verander, het ’n volbank regters beslis.
Die drie regters – regters James Yekiso, Chantel Fortuin en Rosheni Allie – het bevind dat die objektiewe getuienis oor die mishandeling deur die oorledene wel dwingende en wesenlike omstandighede daarstel om van die voorgeskrewe vonnis van lewenslank te moes afwyk.
Marais is in 2009 deur regter Daniël Dlodlo in die rondgaande hof op Swellendam daaraan skuldig bevind dat sy mense gehuur het om haar man in Oktober 2006 op ’n bouperseel langs hul huis in Jongensfontein te vermoor.
Die oorledene is 26 keer met ’n mes gesteek. Marais en een van haar helpers, Ricardo Piedt, is albei lewenslank tronk toe gestuur. Piedt het ook teen sy lewenslange vonnis geappelleer, maar dit is gister van die hand gewys.
Marais se verweer was deurentyd dat sy ’n slagoffer van mishandeling was, asook dat sy net die mense gehuur het om haar man “ ’n loesing” te gee en nie dood te maak nie.
Die verhoorhof het in 2009 bevind die moord is wel in opdrag van Marais gepleeg. Die getuienis van mishandeling is deur die verhoorhof verwerp. Die verhoorhof by verwerping, het die vraag gevra waarom Marais nie haar man verlaat het nie. Die appèl-uitspraak stel dit as kommerwekkend as dit bygedra het tot die bevinding dat sy nie mishandel was nie, aangesien talle studies daarop dui sulke vrouens kan nie uit die kloue ontsnap nie.
In hul uitspraak het die drie regters saamgestem Marais is regtens skuldig aan moord, maar het bevind die onafhanklike getuienis van mishandeling tydens die huwelik moet aanvaar word.
“Waar die onafhanklike getuies Marais se getuienis oor mishandeling staaf, moet haar getuienis in daardie opsig aanvaar word,” lui die uitspraak.
Met betrekking tot vonnis is bevind dit moet nie te lig wees nie, omdat Marais haar sosiaal-ekonomiese bevoordeling teenoor twee weerlose vroue uit minder gegoede sosiaal-ekonomiese omstandighede misbruik het.
Verder verswarend dat sy haarself probeer verontskuldig het en die een vrou, wat haar huishulp was en haar in haar nood bygestaan het, aan die pen wou laat ry.
Die vonnisse is terugwerkend van krag van die datum van vonnisoplegging. Sy is op 8 Februarie verlede jaar gevonnis.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger