Ruby hét man vermoor
2009-08-26 09:32
Swellendam - Ruby Marais is een van die gevaarlikste leuenaars met wie dié hof nóg te doen gekry het.
Só het regter Daniel Dlodlo gister dié 43-jarige Stilbaaise sakevrou beskryf kort voordat hy haar, haar huiswerker, die 44-jarige Hester Afrika, dié se suster, die 50-jarige Elizabeth Laverdien en die 25-jarige Ricardo Piedt skuldig bevind het aan die huurmoord op haar man, die 56-jarige Basie Marais, in Oktober 2006.
Mnr. Marais is op 7 Oktober in ’n lokval gelei ná ’n telefoonoproep dat daar by sy vliegtuigloods in Stilbaai ingebreek is. Sy lyk is later vol meswonde op ’n bouperseel langs die egpaar se huis in Jongensfontein gevind.
Dlodlo het hier in die rondgaande hof gesê Marais het gelieg met haar verweer dat sy ’n mishandelde vrou was. Sy het iemand gesoek om haar man dood te maak nadat poeier (gif) van sangomas nie gewerk het nie.
Sy het haar huiswerker en dié se susters by haar planne betrek totdat hulle iemand (Piedt) gekry het wat die taak kon verrig, het hy gesê.
Volgens Dlodlo is die moord goed beplan en uitgevoer deur die beskuldigdes, wat “soos ’n span osse” saamgewerk het.
Hy het gesê die hof aanvaar die getuienis van Ivan Sefoor – wat die beskuldigdes na die Marais-woning vervoer het – en Caroline May – Laverdien en Afrika se suster – wat albei staatsgetuies geword het.
Volgens Dlodlo was daar nooit sprake dat mnr. Marais ’n pak slae moes kry nie. “Dié storie is opgemaak nadat mev. Marais in hegtenis geneem is.”
Ruby Marais het boonop swartsmeerstories vertel, soos dat haar stiefdogter, Desiray McKirby, deur haar pa verkrag is. Sy het ook telkemale vir die polisie gejok.
Mnr. Marais se optrede – soos die woonstel wat hy vir Marais se dogter (Jessica Rautenbach) gekoop het, die versekeringpolisse wat hy uitgeneem het met sy vrou as beguns-tigde en die erwe wat hy in haar naam laat registreer het – strook nie met dié van ’n wreedaard nie.
Dit wil eerder voorkom of mnr. Marais sy vrou teen armoede wou beskerm indien hy sou doodgaan, het Dlodlo gesê.
Dlodlo het geweier om die skuldiges se borgtog te verleng en die saak tot vandag uitgestel.
McKirby het ná die uitspraak buite die hof gesê: “Die saak is nou in die Here se hande.”
- Die Burger