Ruben Kruger sterf
2010-01-28 07:39
Amy Johnson
Kaapstad - Die voormalige Springbok- en Bulls-flank Ruben Kruger (39) het sy jarelange stryd teen kanker verloor.
Kruger is Woensdagaand oorlede.
Hy het van 1993 tot 1999 as Springbok-flank uitgedraf en was deel van die seevierende Wêreldbeker-kampioenspan van 1995.
Kruger is ook in 1995 as Saru se speler van die jaar aangewys.
Hy het 36 keer vir die Bokke uitgedraf en het sewe drieë gedruk.
Dokters het in 2000 'n breingewas by hom diagnoseer en in 2007 en 2009 het hy twee breinoperasies ondergaan waartydens gewasse uit sy brein verwyder is.
Aan die einde van sy rugbyloopbaan het hy 'n kameraverkoopsman geword en het 'n Minolta-franchise in Pretoria besit.
Die akteur Grant Roberts het die rol van Kruger in Invictus, 'n film oor Nelson Mandela en die 1995 Springbokke, vertolk.
Kruger laat sy vrou Lize en twee dogters Zoë (7) en Isabella (4) agter.
'n Aanhanger op sy Facebook-blad skryf: " Jammer oor sy afsterwe...ons weet jy is nou op 'n beter plek sonder lyding en pyn! Dankie vir die voorbeeld wat jy gestel het! Rest in peace".
– Kliek hier om jou eie huldeblyk aan Ruben Kruger te skryf.
– Nuus24