Rowers wurg vrou (88) in huis
2009-10-15 14:38
Johannesburg - ‘n 88-jarige vrou is Donderdag van haar juweliersware by haar huis in Walkerville in die suide van Johannesburg beroof, het die polisie in Vereeniging gesê.
Volgens kapt. Shado Mashobane, polisiewoordvoerder, het twee mans glo by die vrou se huis kom aanklop op soek na werk.
“Toe sy vir hulle sê dat sy reeds ‘n tuinier het, het die mans haar vir water gevra. Hulle het haar in die huis in gevolg waarna hulle haar gegryp het en na haar slaapkamer gedra het.”
Hulle het haar glo gewurg waarna hulle haar halssnoer en vier ringe, waarvan een haar trouring, gegryp en gevlug het.
Die vrou het verskeie kneusplekke aan haar gesig en hande opgedoen.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
– Sapa