Rowers teiken huise in Durbanville
2010-04-21 09:01
Maygene de Wee, Die Burger
Kaapstad - Drie rowers wat verbind word met ’n vlaag huisbrake in Durbanville word deur die polisie as “geleentheidsrowers” bestempel.
Sers. Bernice Laäs-Bezuidenhout, ’n polisiewoordvoerder, het gesê die drie mans word met twee huisbrake Sondagaand en twee huisbrake op Dinsdag 6 April verbind.
Die modus operandi was dieselfde en huise in dieselfde gebied in Kenridge was in die visier.
Sondag om 21:45 is ’n bejaarde egpaar in hul huis in Van der Stellaan beroof deur drie rowers wat toegang deur ’n oop slaapkamervenster verkry het.
Die 71-jarige vrou het gister gesê sy en haar 72-jarige man het TV gekyk toe die mans die huis binnegekom het. Hulle het die elektriese toegangshek met ’n skroewedraaier oopgedwing en deur die kamervenster geklim.
Laäs-Bezuidenhout het gesê hulle het met twee selfone en juweliersware ter waarde van R10 000 gevlug. Die egpaar verkies om anoniem te bly.
Sondag omstreeks 23:00 is ’n vrou in haar huis in Tafelberglaan deur vermoedelik dieselfde drie mans beroof. Hier het hulle ’n skootrekenaar, ’n handsak en selfoon gebuit. Hulle het toegang deur ’n oop deur verkry.
Tafelberglaan is slegs een straat weg van Van der Stellaan. Niemand is in enige van die voorvalle beseer nie.
Die rowers hou vermoedelik die huise fyn dop en soek dan ’n oop deur of venster. In albei gevalle het twee van die rowers klapmusse gedra.
Lt.kol. Willem Rademeyer, hoof van sigbare polisiëring in Durbanville, het gesê hulle het patrollies verskerp in die Kenridge-omgewing. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
* In ’n derde voorval Sondagaand is die Sonstraal Superette in Hebronstraat in Sonstraal, Durbanville, deur twee gewapende Afrikaanssprekende mans beroof. Hulle het die bestuurder en ’n kassier aangehou en sowat R15 400 geroof.